
Olie mildelik
Die grootste oorsaak van naels wat breek en afdop, is droogheid. “Die maklikste manier om naels te versterk is om dit vogtig te hou,” sê Jin Soon Choi, ’n manikuris. Handeroom werk goed, maar naelvliesroom is beter vir gemanikuurde naels omdat dit deur naellak kan dring, sê Choi.
Vyl dit
“Bly weg van metaal- of ander growwe vyle,” sê Roxanne Valinoti van Creative Nail Design. Dit rafel die naelrande uit en laat die naels haak en afdop. Vyle met ’n sagte grint is ideaal. Dié vyle het ’n growwe sowel as ’n sagter kant waarmee jy delikate naels kan vyl. Die kante van jou naels bied strukturele steun – moet dit dus nie te veel vyl nie.
Los daardie splinters
Staak die slegte gewoonte om jou naellak af te trek. “Só trek jy ook klein lagies van jou naelbed af,” sê Deborah Lippman, ’n manikuris. “Dit verswak die nael en veroorsaak ’n oneweredige oppervlak, wat tot verdere afdopping en versplintering lei.”
Laat die basis hard word
As jou naels sag en dun is, begin met ’n versterkende basislaag wat proteïen en kalsium bevat, sê Choi. Vermy dit egter as jou naels hard is, want dan sal dit jou naels bros maak. Só onderskei jy: Sagte naels is geneig om af te dop en te versplinter, terwyl harde naels gewoonlik by die punte breek.
Gebruik gereedskap (nié jou naelpunte nie)
“Ons naels breek dikwels omdat ons bokse oopmaak, karring aan ’n ritssluiter wat vashaak of die vuiligheid op borde met ons naels afkrap,” sê Lippman.
“Dit veroorsaak dat die nael buig by die stresarea – die gedeelte waar die wit naelgroei en die pienk naelbed bymekaarkom.” Aanhoudende druk op dié punt verswak ’n nael en lei uiteindelik tot naels wat breek.
The post 5 maniere om jou naels te versterk appeared first on Goeie Huishouding.